Algemene inligting, nie regsadvies nie - elke aangeleentheid draai om sy eie feite. Vrywaring
Kan julle 'n kontrak wat aan my gegee is, nagaan?
Ja - en verkieslik voordat jy dit onderteken, nie daarna nie. Bring dit na 'n konsultasie en ons gaan dit klousule vir klousule deur: waartoe jy werklik instem, wat gebeur as dinge verkeerd loop, wat ontbreek, en waarteen jy beswaar behoort te maak. 'n Kontrak is die mees onderhandelbaar in die uur voor ondertekening en die minste onderhandelbaar die uur daarna.
Is 'n ondertekende kontrak altyd afdwingbaar?
Die vertrekpunt tel teen die persoon wat vra: ons reg hou jou aan wat jy onderteken, of jy dit gelees het of nie. Dit is juis waarom ons die kontrak eerder wil sien voordat jou handtekening daarop kom.
Maar nee - onderteken is nie altyd afdwingbaar nie. 'n Kontrak misluk ondanks ondertekening waar die reg formaliteite voorskryf wat nie nagekom is nie, waar 'n party handelingsonbevoeg was, waar toestemming deur wanvoorstelling, dwang of onbehoorlike beïnvloeding verkry is, of waar die ooreenkoms self onwettig is. Wetgewing voeg sy eie laag by: verbruikersbeskermings- en kredietwetgewing kan bepaalde bedinge onafdwingbaar maak, hoe duidelik dit ook al onderteken is. Of enige hiervan jou help, hang van die dokument en die feite af - en daarvoor is die nagaan bedoel.
Het ons getuies nodig?
Vir die meeste kontrakte, nee - getuies is nie wat 'n ooreenkoms bindend maak nie. Hul waarde lê in bewys: 'n handtekening wat deur getuies bevestig is, is later moeiliker om te ontken, en daarom maak goed opgestelde ooreenkomste steeds daarvoor voorsiening.
Die groot uitsondering is 'n testament, waar getuies nie 'n fyn puntjie is nie maar 'n geldigheidsvereiste - die Wet op Testamente vereis ondertekening in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies, gelyktydig teenwoordig, wat self teken. Testamente wat hierin misluk, misluk heeltemal, en om een deur die howe te red is duur en onseker. 'n Huweliksvoorwaardekontrak het eweneens sy eie formaliteite: dit moet notarieel verly en geregistreer word.
Kan 'n mondelinge ooreenkoms staan?
Gewoonlik ja. Ons reg vereis nie dat die meeste kontrakte op skrif moet wees nie - 'n mondelinge ooreenkoms is net so bindend as 'n geskrewe een. Die moeilikheid lê nooit by geldigheid nie; dit lê by bewys. Wanneer die verhouding suur word, sal julle twee verskillende gesprekke onthou, en die party wat die bepalings nie kan bewys nie, verloor.
Sommige ooreenkomste is die uitsondering en moet op skrif wees om hoegenaamd te bestaan. 'n Verkoop van grond het geen krag of gevolg nie tensy dit in 'n vervreemdingsakte vervat is wat deur die partye onderteken is. 'n Borgstelling is ongeldig tensy die bepalings daarvan in 'n geskrewe dokument vervat is wat deur die borg onderteken is. Kry dit verkeerd en daar is niks om af te dwing nie. Vir al die res is die skrif nie die reg se vereiste nie maar ons s'n: papier is goedkoop, en litigasie oor halfonthoude gesprekke is nie.
Wat kos dit om 'n kontrak te laat opstel?
'n Fooiberaming word by die eerste konsultasie gegee, want geen enkele prys pas almal nie - 'n eenvoudige skulderkenning en 'n aandeelhouersooreenkoms is verskillende diere. Wat ons nie sal doen nie, is om te begin opstel voordat jy weet wat dit gaan kos.
Hoe lank neem dit?
Afhangend van die saak - van 'n dag tot 'n week, sodra ons het wat ons van jou nodig het. 'n Eenvoudige ooreenkoms beweeg vinnig; een met verskeie partye of ongewone bepalings neem langer. Is daar 'n werklike sperdatum, sê dit by die konsultasie en ons beplan daarom heen.
Moet ek na julle kantore toe kom?
Ons verkies dit. Baie gaan per e-pos verlore, en dit is aangeleenthede waar dit 'n werklike verskil maak om oorkant mekaar aan 'n lessenaar te sit. Waar die afstand dit werklik onprakties maak, konsulteer ons eerder per video-oproep.
Kan julle my per e-pos of WhatsApp adviseer?
Nee. Ons adviseer in konsultasie. 'n Boodskap is die regte manier om 'n afspraak te reël, maar nie die regte manier om advies te ontvang oor iets van hierdie omvang nie.
Wat moet ek na die konsultasie saambring?
Enige konsep of vorige ooreenkoms, korrespondensie wat uiteensit wat ooreengekom is, en besonderhede van die ander party. Het jy niks, kom in elk geval - dit is beter om die gesprek te begin as om te wag totdat die lêer netjies is.
Hoe maak ek 'n afspraak?
Skakel 087 133 3595, of stuur die kort vorm op hierdie webwerf. Ons sal jou kontak om 'n datum en tyd te reël.